 Die teleurstelling is groot, maar die vuurvreter-flank Heinrich Brüssow het nou uiteindelik tyd om te jag en vis te vang.
Vrystaters en rugby-ondersteuners van oor die land heen het gister na hul asem gesnak toe die nuus bekend word dat die Springbok- en Vodacom Cheetah-trots nie weer vanjaar op die rugbyveld in aksie sal wees nie. Brüssow kry egter ’n welverdiende blaaskans.
Volksblad het gister met die rugbyheld gesels voordat hy in die Life-Rosepark-hospitaal geopereer is.
Hy sê die sirene het al geskreeu toe hy in die doodsnikke van Saterdag se Vodacom Super 14-kragmeting teen die Hurricanes sy linkerknie se kruisligamente geskeur het.
Volgens hom het hy nie eens kontak gemaak nie.
“My been het net ingegee.”
Hy het eers Sondag gehoor hy sal geruime tyd nie rugby kan speel nie.
As alles “baie goed gaan”, kan Brüssow moontlik teen die einde van die Absa Curriebeker-reeks terug wees. Andersins sal hy selfs tot volgende jaar se Vodacom Super 14-toernooi langs die kantlyn moet staan.
Hy sê hy is teleurgesteld, maar “dit gebeur, dit is deel van die werk”.
Brüssow gaan nou sy rehabilitasieprogram “pligsgetrou” nakom en die dinge doen wat hy die afgelope vyf jaar nie kon nie.
Hy glo nie sy afwesigheid in die Vodacom Cheetah-pak sal ’n groot invloed hê nie.
“Daar is baie diepte in die span.”
Brüssow sê met ster-losvoorspelers soos Ashley Johnson, Hendro Scholtz, Kabamba Floors en Frans Viljoen hoef die Vodacom Cheetahs nie bekommerd te wees nie.
Hoewel hy later vanjaar in alle waarskynlikheid weer die Groen-en-Goud oor sy kop sou trek, was die Vodacom Cheetahs en Vodacom Super 14-toernooi voor-op in sy gedagtes.
Volgens Brüssow wou hy en sy spanlede met vanjaar se toernooi wys hulle is ’n gedugte span.
Verlede jaar het die Vodacom Cheetahs ’n teleurstellende Vodacom Super 14 beleef en slegs twee wedstryde gewen. Vanjaar het hulle egter sommer vroeg hul stempel afgedruk en seges oor die Haaie en Hurricanes behaal. Brüssow sê die spelers het selfvertroue en kan die knoop deurhak.
Die talentvolle rugbyspeler is nou uit rugby nadat hy gewoond begin raak het aan die strenger toepassing van die afbreekpunt-reël.
Kritici het gemeen dit sal hom minder doeltreffend maak, maar hy het die afgelope twee weke hul monde toegespeel.
“Dit is maar moeilik.
“Almal moet aan die nuwe reël gewoond raak, maar die ouens sal daarby aanpas.”
Dit is ook nie die eerste keer wat ’n besering Brüssow maande lank weg van die rugbyveld hou nie.
Toe hy ’n matriekleerling aan Grey-kollege was, het hy sy dyspier geskeur en was hy ses tot agt maande buite aksie.
Vicus Bürger en Abrie Burger |