 Die Vodacom Cheetahs het nie net Saterdag in hul sege van 28-12 die Hurricanes met akkurate korrelwerk bloedneus geskop nie, maar spog boonop met die naasbeste slaagsyfer na die pale in die Vodacom Super14-reeks.
Dié rugbyspan het in die eerste vier rondes met 84% van sy skoppe geslaag en slegs die Bulls of eintlik die Springbok-losskakel Morné Steyn spog met ’n beter gemiddeld.
Soos vangskote in krieket, is stelskoppe dikwels in rugby die verskil tussen ’n nederlaag en ’n sege – veral met die strenger toepassing van die reëls.
Naas Olivier (losskakel) en sy mede-skerpskutters het volgens www.ruggastats.co.za sover met 26 van hul 31 skopkanse – 21 uit 24 strafskoppe en 5 uit 7 doelskoppe – geslaag, terwyl die Bulls met 93% van hul skoppe in drie kragmetings die kol getref het.
Die Vodacom Cheetahs se skopvertoning teen die Hurricanes het hul harde werk in dié afdeling onderstreep. Olivier en Meyer Bosman (binnesenter) het die besoekers ’n skoples soos min gegee deur met al hul skoppe, sewe strafskoppe en ’n doelskop, te slaag.
Swak korrelwerk was dikwels in die verlede die Vodacom Cheetahs se ondergang in die Super-reeks en dit wil lyk asof hulle nou ’n groter kans staan om naelbyt-stryde te wen.
Naka Drotské, breier van die Vodacom Cheetahs, meen dis verblydend om te weet dat sy span so ’n hoë slaagsyfer handhaaf.
“Skopwerk was die afgelope twee jaar baie keer die oorsaak waarom ons wedstryde verloor het. Dis lekker om te weet dat jy byna ’n kans van 85% het dat jy met ’n skop pale toe sal slaag as jy ’n strafskop kry,” sê hy.
Die Vodacom Cheetahs se skopvertoning in 2010 is selfs beter as ’n span soos die Crusaders van Nieu-Seeland s’n. Hulle spog met ’n suksessyfer van 79%, in die vierde plek met die All Black-losskakel Dan Carter aan die spits.
Naas Steyn, wat met 26 uit 28 probeerslae en dus met 93% van sy skoppe suksesvol was, is Olivier die mees akkurate stelskopper in die reeks.
Hoewel Bosman en Riaan Viljoen (heelagter) die Vodacom Cheetahs se langafstand-skoppe behartig, handhaaf Olivier ’n slaagsyfer van 83%. Hy het met 20 uit 24 stelskoppe, 15 uit 18 strafskoppe en 5 uit 6 doelskoppe, geslaag.
Verder het Olivier ook die vierde meeste punte, 58, in die reeks opgestapel, met Steyn voor in die koor op 77. Hawies Fourie, agterlyn-afrigter van die Vodacom Cheetahs, sê dis lekker dat die harde werk op die oefenveld in wedstryde gesien kan word.
“Die skoppers het, buiten gewone oefeninge, vier skopsessies per week. Hulle werk hard en ek is bly die vrugte daarvan word gepluk.”
Johann Thormahlen |