 BLOEMFONTEIN - Ná hul beste vertoning in die Super14-reeks teen die Hurricanes sou die Vodacom Cheetahs waarskynlik dadelik op hul goeie spelpeil wou voortbou, maar die span se breiers meen nie sy loslootjie sal hom pootjie nie.
Dié rugbyspan en die Blues sal nie die naweek in aksie wees nie en die Vodacom Cheetahs speel eers weer aanstaande Saterdag teen die Stormers in Kaapstad.
Die spelers is ná die sege van 28-12 oor die Hurricanes ’n welverdiende blaaskans gegun en sal eers weer môre saamtrek om vir die Stormers-kragmeting te begin slyp.
Die Vodacom Cheetahs het met hul oorwinning oor die Canes gewys hulle wil meer doen as net meeding en daarom meen Naka Drotské, Cheetahs-breier, dat hoewel die loslootjie nie ideaal is nie, sy span met selfvertroue kan rus.
“Ons sou graag die wenmomentum wou behou, maar daar is niks wat ons aan die loslootjie kan doen nie – dis lankal voor die reeks so bepaal.
“Dalk is dit ’n goeie ding dat ons met selfvertroue kan rus,” sê hy.
Daarmee bedoel die breier beslis nie dat sy span oorgerus sal raak nie.
Volgens hom is dit uiters belangrik dat die Vodacom Cheetahs veral op hul laaste twee wedstryde in Suid-Afrika, teen die Stormers en hier teen die Reds, moet fokus voor hulle op die vliegtuig na Australasië klim.
“Ons moet aangeskakel bly vir die twee wedstryde in Suid-Afrika voor ons op toer gaan. Dis belangrik om positief te bly voor die toer.”
Juis met die Vodacom Cheetahs se wissevalligheid in gedagte, sou ondersteuners dalk eerder wou hê hul span moet die wenmomentum behou as om vir ’n wyle laag te lê.
Almal weet dié streekspan kan op sy beste enige teenstander laat les opsê, maar dis die Vodacom Cheetahs se onvermoë om agtereenvolgende seges te behaal wat steeds by die span spook.
Die Vodacom Cheetahs kon laas in 2006 in die Super-reeks twee wedstryde ná mekaar wen en het vanjaar tussen hul seges oor die Sharks en Hurricanes teen die Highlanders vasgeval.
Hawies Fourie, hulpafrigter van die Vodacom Cheetahs, beaam Drotské se stelling oor die belangrikheid van die Vodacom Cheetahs se laaste kragmetings in Suid-Afrika.
Hy sê die span sal in 2010 ’n beter toer beleef en moet daarom die grondslag daarvoor in dié wedstryde lê.
“Ons wil nie net gaan kyk hoe dit daar anderkant (Australië en Nieu-Seeland) lyk nie, maar eerder punte terugbring huis toe.”
Johann Thormahlen |